Só word beurtkrag gefnuik

Eienaar gee huurders noodkrag

Landwyd word eienaars van winkelsentrums genoodsaak om miljoene rande in groen-tegnologie en kragopwekkers te belê om hul sentrums teen die negatiewe impak van beurtkrag en skerp stygings in elektrisiteitstariewe te verskans.

Emira bestee tans sowat R17,6 miljoen aan kragopwekkers vir kleinhandelaars in sy Wonderpark-winkelsentrum in Pretoria.

James Templeton, Emira se uitvoerende hoof, sê omdat Eskom nie in staat is om die voorsiening van elektrisiteit aan ondernemings te waarborg nie, is dit noodsaaklik om ander kragbronne te ondersoek wat ondernemings aan die gang kan hou tydens beurtkrag.

Hy sê dit lyk asof beurtkrag nog die volgende paar jaar met ons gaan wees.

Wonderpark is in ’n gebied waar beurtkrag geskeduleer is van 16:00 tot 18:30, dié superstreeksentrum se besigste tyd.

Templeton sê klante wat die sentrum tydens beurtkrag verlaat, is geneig om nie weer terug te keer wanneer die krag uiteindelik weer aankom nie.

“ Emira bestee tans sowat R17,6 miljoen aan krag-opwekkers vir klein- handelaars in Wonderpark. ”

Hy sê beurtkrag het ook ’n rimpeluitwerking omdat die infrastruktuur beskadig word deur die krag wat aan en af gesit word, en daar is gevolglik ook veiligheidsrisiko’s.

Dit is van die redes waarom Emira bereid is om miljoene rande aan kragopwekkers te bestee om die probleem te hanteer.

Vyf kragopwekkers word aan die sentrum se substasies gekoppel, wat volgens hom voldoende is om die kleinhandelaars wat nie reeds hul eie opwekkers het nie, van krag te voorsien. Die projek sal teen die middel van Augustus voltooi wees.

Emira speel ook ’n aktiewe rol daarin om die druk op die land se kragnetwerk te help verlig. Die fonds het onlangs ’n sonkragaanleg van R6 miljoen op die dak van sy Epsom Downs-winkelsentrum in Bryanston geïnstalleer.

Dit is ’n loodsprojek en die eerste stap om hernubare energie-oplossings tot sy eiendomsportefeulje toe te voeg as deel van sy volhoubaarheidstrategie.

Die fotovoltaïese sonkragaanleg behels 1 084 panele, wat sowat 271 kW genereer, of sowat 30% van die elektrisiteit wat die sentrum benodig. Emira sê die projek gaan jaarliks 515 172 kWh se energie spaar.

Recent Posts
Contact Us

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.