Kantore, winkels: Eienaars klou aan bates

Beleggings in kommersiële eiendom het in 2014 dramaties afgeneem, namate eienaars aan hul beleggingseiendomme vasgeklou het.

Hoewel daar nie ’n tekort aan gewillige kopers vir winkelsentrums, kantore en nywerheidseiendom was nie, was daar min alternatiewe beleggingsopsies vir die kontant wat verkopers uit verkope sou realiseer, sê Zandile Makhoba, JLL se hoof van navorsing.

“Eiendomseienaars het gevolglik aan die waarde in hul eiendomsbates vasgehou.”

43,7% minder transaksies

Uit die nuutste transaksie-oorsig van JLL blyk dit dat die waarde van kommersiële eiendomstransaksies verlede jaar met 43,7% afgeneem het tot R13,8 miljard en die getal transaksies tot 112, van 148 in 2013.

Die kantoorsektor het die grootste afname getoon en slegs 39 transaksies is beklink, teenoor 85 in 2013. Die waarde van dié transaksies was R4,4 miljard, 68,7% laer as die vorige jaar.

Die genoteerde eiendomsreus Growthpoint was die grootste aandrywer van beleggingsaktiwiteit en verantwoordelik vir 44% van die kantoortransaksies in 2014.

Die grootste beleggingsaktiwiteit was in Gauteng.

Ooraanbod van kantore

’n Beduidende uitdaging vir die kantoorsektor is ’n merkbare toename in nuwe ontwikkelings in kern-nodusse in Johannesburg. In sommige gebiede lei dit tot ’n ooraanbod van kantoorruimte, wat druk op huurgeld kan plaas. Dit kan daartoe lei dat eienaars in die toekoms van hul ouer kantoorgeboue van die hand kan sit.

Die waarde van kleinhandeleiendomstransaksies het met 47,6% afgeneem tot R5,1 miljard. “Ongetwyfeld het die swakker verbruikersvertroue en algemene ekonomiese vooruitsigte bygedra tot beleggers se onsekerheid,” sê Makhoba.

Skerp daling in Wes-Kaap

Die Wes-Kaap het die grootste daling in beleggingsaktiwiteit in kleinhandeleiendom getoon. Die transaksiewaarde in dié provinsie het met 81% afgeneem tot R717 miljoen.

Makhoba verwag dat eienaars van kleinhandeleiendom ondanks swak verbruikerstoestande steeds hul eiendomme gaan behou. Van die groot winkelsentrumbates het hulself as uiters veerkragtig bewys in moeilike ekonomiese omstandighede.

Pakhuise

In teenstelling met die kantoor- en kleinhandeleiendomsektor, het die totale beleggings in nywerheidseiendom tot R4,3 miljard opgeskiet. Hoewel Redefine se verkryging van die Macsteel-eiendomsportefeulje 62,1% van die beleggingsaktiwiteit verteenwoordig het, sou dit sonder die transaksie steeds met 147% op ’n jaargrondslag toegeneem het.

Die aktiwiteit is gedryf deur ’n toenemende vraag na pakhuis- en logistieke ruimte.

Makhoba sê die groot vraag is watter eiendomseienaars in 2105 gewillig gaan wees om hul bates te verkoop.

“Wat die deurslag gaan gee, is die feit dat alternatiewe beleggingsopsies vir die langtermynbelegger dun gesaai is.”

Groot transaksies in 2014

  • Emira koop Menlyn Corporate Park in Pretoria vir R614 miljoen.
  • Growthpoint koop Illovo Corner in Johannesburg vir R220,6 miljoen.
  • Fortress koop die Weskus Mall in Vredenburg vir R469,9 miljoen.
  • Vukile koop die Lethabile Mall in Brits vir R194,2 miljoen.
  • Fountainhead koop ’n nywerheidseiendom in Gauteng vir R570,7 miljoen.
Recent Posts
Contact Us

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.