Eiendom stof ander bates uit

Die genoteerde-eiendomsektor het die tradisionele bateklasse in 2014 uitgestof en ook die hoogste geannualiseerde totale opbrengs (inkomste en kapitaal) die afgelope vyf jaar behaal.

In die jaar tot einde Desember het die indeks van genoteerde eiendom ’n totale opbrengs van 26,64% behaal, gevolg deur die indeks van alle aandele met 10,88%, staatseffekte met 10,15% en kontant met 5,90%, sê Catalyst Fondsbestuurders in sy nuutste verslag oor genoteerde eiendom.

Van 2010 tot 2014 het die indeks van genoteerde eiendom ’n geannualiseerde totale opbrengs van 21,36% behaal, die indeks van alle aandele 15,79%, staatseffekte 9,97% en kontant 5,85%.

Anton de Goede, eiendomsportefeuljebestuurder van Coronation, sê die sektor het in 2014 verras nadat aandeelpryse in Januarie 2014 jaar geval het.

Hy skryf die blink vertoning daaraan toe dat die rentekoers nie verder verhoog is soos wat verwag is nie en die beter as verwagte dividendopbrengs wat gelewer is.

Vir vanjaar voorsien hy dat die moontlike invloed van laer inflasie op die rentekoerssiklus die bepalende faktor gaan wees vir opbrengste. Volgens Catalyst is die genoteerde-eiendomsektor se verwagte inkomste-opbrengs sowat 7%.

In 2014 was die topvertoner in die sektor Fortress B, wat ’n totale opbrengs van 100,31% behaal het teenoor 31,62% in 2013.

Fortress se B-koppeleenhede maak deel uit van die Fortress Income Fund, wat ’n A- en B-eenheidstruktuur het. Dié fonds fokus hoofsaaklik op kleinhandelsentrums in nie-metropolitaanse gebiede.

Hy het ook groot blootstelling aan buitelandse genoteerde eiendom deur sy aandeelhouding in New Europe Property Investmens (Nepi) en Rockcastle.

Rockcastle het die naasbeste vertoon met ’n totale opbrengs van 82,40%, gevolg deur die kleinhandeleiendomsfonds Resilient met ’n totale opbrengs van 60,46%. Nepi was ook ’n uitblinker met ’n totale opbrengs van 47,92%.

De Goede sê die genoteerde eiendomsektor het ’n besige jaar agter die blad van korporatiewe optrede en nuwe noterings.

Onder die nuwe noterings tel Equites, ’n nywerheideiendomsfonds, Safari, ’n kleinhandel- eiendomsfonds, Delta Interna- tional, ’n Afrika-gefokusde fonds, en die gediversifiseerde eiendomsfonds Pivotal.

In 2014 het die land se grootste genoteerde eiendomsfonds, Growthpoint, die verkryging van die R6 miljard- portefeulje van Tiber afgehandel en is besig om die oorname van Acucap en Sycom te finaliseer.

Redefine, die naasgrootste genoteerde eiendomsgroep, het in die jaar die Annuity Property Fund verkry, asook ’n belang in Emira.

Recent Posts
Contact Us

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.

keillenmedia-release-13-02-15