Eiendom beloon dié beleggers

Proptax Ten top-volgfonds

Deur Nellie Brand-Jonker

Proptax Ten was die afgelope jaar die top-indeksvolgfonds met ’n totale opbrengs van 30%.

Volgfondse is beursverhandelde fondse wat aandele-indekse vir spesifieke sektore van die JSE navolg.

Mike Brown, besturende direkteur van die webtuiste The Home of Exchange Traded Funds, sê in die algemeen het eiendoms­indeksvolgfondse in 2014 die beste gevaar.

Proptax Ten volg die indeks van die top-tien eiendomsaandele op grond van markwaarde. Dit is Resilient, Hyprop, Vukile, SA Corp, Attacq, New Europe, Capital, Growthpoint, Emira en Redefine. Hy is R183 miljoen groot.

Volgens die prestasiepeiling van etfSA.co.za het Stanlib se ­eiendomsvolgfonds die naasbeste gevaar met 26,8%, gevolg deur die 26,4% van die Prudential- versterkte volgfonds vir Suid-Afrikaanse eiendom. Hul maatstaf, die JSE se eiendomsindeks, het ook nie sleg gevaar nie met ’n opbrengs van 26,6% vir die jaar.

Brown sê die prestasiepeiling word gedoen om te wys hoeveel beter die fondse as die algehele mark vaar. 35 van die 90 passiewe fondse in Suid-Afrika het die JSE se indeks van alle aandele geklop. Hy meen dit is ’n wesenlike getal.

Brown sê dit toon ook hoe belangrik dit vir ’n belegger is om die korrekte indeksfonds te kies.

Onder die vier beste fondse is daar net een finansiële fonds, die Satrix Fini, wat 26% gelewer het. Die JSE se finansiële indeks het egter oor die jaar ’n opbrengs van 27,3% gelewer. Die fonds se maatstaf is die indeks van top-15 finansiële aandele.

Volgens die fondsfeiteblad vir einde November het hy oor ’n jaar, drie jaar en vyf jaar effens swakker as sy maatstaf gevaar.

Brown sê die kleiner opbrengs as dié van die indeks wat gevolg word, hou met die koste verband om in die mark handel te dryf.

​Die fondse werk so

Passiewe fondse volg die aan- delesamestelling van indekse en word nie gekies op grond van sekere ontledings nie, soos in die geval van fondse wat aktief bestuur word.

Hulle hou dieselfde aandele teen dieselfde gewig as die indeks en styg en daal dus saam met die indeks.

’n Belegger het nie die bykomende risiko soos wanneer hy die mark probeer klop met die kies van individuele aandele nie.

Dit is beursverhandelde produkte en is dus op die JSE genoteer. Dit kan deur enige JSE-aandelemakelaar of platform soos etfSA.co.za gekoop word.

Dit kos gewoonlik minder om in passiewe fondse te belê en beleggers kry dus meer van die opbrengs wat die fonds lewer.

Aktiewe batebestuurders, ook in Suid-Afrika, sukkel om beter as hul maatstaf te vaar.

Passiewe fondse is ’n verwysing na fondse wat die samestelling van indekse volg in stede van aktiewe fondsbestuurders wat ’n keuse maak oor waarin om te belê op grond van sekere ontledings.

Passiewe fondse is normaalweg goedkoper vir beleggers om in te belê en beleggers kry dus meer van die opbrengs wat gelewer word.

Dit is beursverhandeldeprodukte wat op die JSE genoteer is. Die fonds se samestelling volg ’n indeks van die JSE wat ’n samestelling van ’n spesifieke sektor se aandele aandui. Hulle boots die indeks na en hou dieselfde aandele in dieselfde gewig wat dit in die indeks dra. Die prys van die beursverhandelde fonds gaan dus op en af soos die indeks styg of daal.

Passiewe belegging bied beleggers ’n lae risiko en iemand kry die gemiddelde vertoning van die mark sonder om te veel bykomende risiko te neem wanneer probeer word om die mark uit te presteer.

Ook in Suid-Afrika sukkel aktiewe batebestuurders om beter as hul maatstawwe te vaar.

’n Beursverhandeldefonds kan deur enige JSE-aandeelmakelaar of platforms soos etfSA.co.za gekoop word.

Recent Posts
Contact Us

We're not around right now. But you can send us an email and we'll get back to you, asap.